Pablo Software Solutions
Copyright © . All rights reserved.
This website was powered by Ewisoft Website Builder.
Deon Hugo-Reeks :Website Builder
1-Op die Drumpel :2-Gaudeamus Igitur :3-die Werkende Jongmens
Die potpourri-mens :Die dinamiek van gebondenheid :Met 'n ossewa in die maan-eeu :Met 'n branderplank in die hoogwater :Op met die hom-pom :Ampsverval en ampsonkunde :Die trane-trekker :Kloeksinnig of kwasterig :Die voorwedstryd
Web Title

nders as in die ander "gesprekke" in die bundel, gaan ek in hierdie hoofstuk hoofsaaklik 'n stukkie geskiedenis in herinnering roep - die kultuurgeskiedenis van die Christen-Afrikanerstudent in Suid-Afrika. En as ons dan vir praktiese doeleindes die verloop van die verhaal wil beperk tot georganiseerde studente-aktiwiteite, dan begin ons gesprek by die begin van hierdie eeu.

Die tydperk was die eerste dekade na die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902).

Die atmosfeer was verbystering wat gewortel het in pas-beleefde onmenslike oorlog-wreedhede.

Die omstandighede was die frustrasie verbonde aan verlies van staatkundige onafhanklikheid.

Die daaglikse belewenis was pogings tot lewens- en wêreldbeskoulike vernietiging.

Maar die slagoffers was die nasate van Watergeus en Hugenoot, gebore uit die Calvinistiese Hervorming, met die verstommende vermoë om in krisissituasies die edelste karaktertrekke te laat voortleef.

Ook onder bovermelde omstandighede sou dié krisisvolk herleef.

Toe die aanslag op die Afrikaanse taal genoegsame vonk in die kruitvat van die Afrikanerdom gemaak het word die eerste georganiseerde Afrikaanse studentebeweging gebore.

  • * Op 6 en 7 April 1911 het verteenwoordigers van universiteite en onderwyskolleges en ook skole uit alle dele van Suid-Afrika in Stellenbosch vergader en die "Studenten Werda Komitee" gestig. Hoewel daar nie 'n hegte organisatoriese verband gevorm is nie, was die Werda-beweging 'n historiese stap as eerste nasionale studente-organisasie wat in Suid-Afrika gestig is.

Hoewel die Werda-organisasie aanvanklik 'n suiwer taalbeweging was, het die organisasie se aktiwiteitsveld egter steeds verder uitgekring - veral toe die uitbreek van die burgeroorlog van 1914 in Suid-Afrika die politieke twispunte nog duideliker geaksentueer het. Hierdie prikkel, saam met die voorbereidingswerk van die Werda-organisasie, lei tot 'n studente-konferensie in Mei 1916 by die Pretoria Onderwyskollege.

  • Dit word die geboorteplek van die "Afrikaanse Studentebond" (ASB).

Die eerste ASB-konstitusie is tydens hierdie Kongres saamgestel. Kort en bondig word die grondslag van hierdie studente-organisasie saamgevat in die woorde: "Die Bond erken die ordinansies van God op die gebied van die wetenskap so-als op elke ander terrein van die lewe".

Die fondamente van die Afrikaanse studentebeweging was nou sekuur en heg gelê. Opeenvolgende studentegeslagte kon nou verder bou en werk. Daar word gestry vir die handhawing van Afrikaans; aksies word geloods wat sou lei tot die instelling van die eerste leerstoel in Afrikaans in Oktober 1918 aan die Grey Universiteitskollege (nou UOVS); 'n twee maal lewensgrootte bronsbeeld van oud-President Steyn word in Bloemfontein opgerig; 'n gedenkboek ter ere van die Genootskap van Regte Afrikaners word uitgegee en die Afrikanerstudent word kultureel saamgebind.

  • Maar, in 1924 word die rus op studentevlak verstoor toe, op inisiatief van Leo Marquard, die "Nasionale Unie van Suid-Afrikaanse Studente" (NUSAS) gestig word. Afrikaanse sowel as Engelstalige studente was verteenwoordig in NUSAS.

Op die lange duur kon hierdie ongelukkige verbintenis nie vreedsaam bly voortbestaan nie. Die verskille tussen Afrikaanse en Engelssprekende studente het veel dieper gelê as blote taalverskille - dit was lewensbeskoulike verskille.

Wanneer die ondervoorsitter van die ASB op Potchefstroom oor die Gewetensklousule praat in Maart 1925, besig hy profetiese woorde: "Maar wat die klousule betref, lê daar 'n groot stryd in die toekoms. Die stryd in verband met die klousule is reeds 'n vingerwysing na 'n groter stryd wat in die toekoms gevoer sal word onder studente-geledere in Suid-Afrika. 'n Stryd waardeur die Suid-Afrikaanse studente in twee verdeel sal word".

Dit sou nie lank duur nie voordat bogenoemde voorspelling bewaarheid is. Die spanning in NUSAS was steeds aan die oplaai toe Julius Lewin in 1927, as destydse redakteur van die NUSAS-blad die bewering maak dat die Afrikaanse studente wat hulle beywer vir 'n wetenskap op Christelike grondslag "bekrompenes en oproermakers" is.

So het een gebeurtenis na die ander daartoe gelei dat die Afrikaanse studente duidelik begin besef het dat hul Christelik-nasionale lewensbeskouing net nie meer lewensruimte binne NUSAS kon vind nie. Daarom het hulle gaandeweg hul vertroue in NUSAS verloor en die ASB wat nog langs NUSAS bestaan het, met sy Christelik-Afrikaanse grondslag as kanaal gebruik om hul diepgevoelde aspirasies uit te leef. Op die 1931-kongres van die ASB word dan ook 'n kommissie van ondersoek aangestel met dr. N. Diederichs (later Suid-Afrika se Minister van Finansies) as konvenor, om deeglik ondersoek in te stel na die opset en funksie van NUSAS.

In Augustus 1933 het hierdie onderliggende reaksie na die oppervlakte deurgedring. Op 15 Augustus vind daar 'n monstervergadering van studente in Bloemfontein plaas en besluit die studente met 147 teen 118 stemme om hul verbintenis met NUSAS te ver-breek. Die verbreeker van die mosie was mnr. P. J. Meyer (later dr. Meyer, voorsitter van die Beheerraad van die SAUK).

  • Die studente van Potchefstroom, Pretoria en Bloemfontein het op 9 September 1933 in Bloemfontein vergader en samesprekings gevoer oor die stigting van 'n nuwe studenteorganisasie wat hulle voorlopig die "Nasionale Studentebond" (NSB) genoem het. 'n Ontwerpkonstitusie is opgestel waarvolgens die NSB op Protestants-Christelike en kultureel-nasionale grondslag berus. Die samewerking van die ASB is verkry en dr. Diederichs het as voorsitter van laasgenoemde, aangekondig dat die ASB bereid sou wees om in die nuwe organisasie op te gaan.
  • Op 14 Oktober 1933 vergader verteenwoordigers van GUK, UP, PUK, US en die Onderwyserskolleges van Pretoria, Bloemfontein, Potchefstroom en Steynsrus in die Oranje-koffiehuis in Bloemfontein. Na 'n besielende toespraak met die tema Nasionalisme as Lewensbeskouing" deur dr. D. F. Malan (later Eerste Minister van Suid-Afrika), word daar oorgegaan tot die stigting van 'n nuwe studenteorganisasie, die "Afrikaanse Nasionale Studentebond" (ANS).

Die grondwet van die ANS is ook tydens hierdie kongres saamgestel. 'n Enkele aanhaling daaruit gee 'n duidelike beeld van die doel en strewe van die ANS: "Die Bond berus op protestants-Christelike en kultureel-nasionale grondslag en erken die leiding van God op die gebied van die kultuur soos op elke gebied van die lewe ooreenkomstig die Afrikaanse volkstradisie soos in die geskiedenis beliggaam".

Een van die kosbaarste aandenkings uit die geskiedenis van die ANS is die "Vryheidsmanifes" wat die ANS op 2 Julie 1940 uitgereik het. In hierdie dokument kom die diepste gevoel van die Christen-Afrikanerstudente tot uiting en word onomwonde die omskepping van die Unie van Suid-Afrika in 'n republikeinse staat geëis.

Die Tweede Wêreldoorlog het in Suid-Afrika, soos in die volwasse wêreld, ook op studentevlak onderlinge verdeeldheid geskep. Dit lei tot die ontbinding van die ANS.

  • In 1946 word 'n organisasie met die naam "Afrikaanse Studentebond" opgerig, maar dié bestaan slegs in die noordelike sentra. Verskeie ander organisasies en konferensies wat min bevrediging gebied het, sien ook in hierdie tyd die lig in 'n poging om die Afrikanerstudente weer nasionaal te verenig.

Op 26 Junie 1948 vergader verteenwoordigers van die studenterade van die Universiteite van Stellenbosch, Potchefstroom en Bloemfontein, asook verteenwoordigers van Afrikaanse studente-groepe by die Kaapse en Witwatersrandse Universiteit, op uitnodiging van die studenteraad van die Universiteit van Pretoria in 'n gees van openhartigheid en vertroue. En op 14 Augustus 1948 word die konstitusie bekragtig op 'n spesiale vergadering in Bloemfontein en daar word besluit om die nuwe organisasie weer die "Afrikaanse Studentebond" (ASB) te noem. En dié"Afrikaanse Studentebond" (ASB) bestaan tot vandag toe.

Die ASB van vandag, soos die ASB van 1916, ken nog steeds net een koers en een grondslag nl. "die Bybel as die onfeilbare Woord van God waarop die Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing van die Afrikanervolk gefundeer is". (Art. 3).

En dié feit het in die jongste tyd gelei tot die verwyt dat die Christen-Afrikanerstudent uit pas geraak het met die tyd en met 'n ossewa wil ry in die maan-eeu.

Die Christen-Afrikanerstudent wat egter sy eie kultuurgeskiedenis ken sal weet dat die Christelik-nasionale lewenskoers van gister, ook vandag en ongetwyfeld ook môre sy aktualiteit sal behou.

 

Laaste keer geredigeer: 2008  / Geplaas: 31 Maart 2017

Op die Drumpel ingevoeg 19 Okt 2018, Geplaas: